Wanneer jy hier in die vrieskas van die noorde bly, dan is die wintermaande maar droog vir kamp. Terwyl ek so gesit en verlang het na beter dae van kampvure en braaivleis, het ek gedink aan alles wat ek so met die jare geleer het oor kamp en reis hier in Amerika.
Een van die redes hoekom ek hierdie blog begin skryf het was om ander te help wat hierdie prag land wil ervaar, maar nie weet waar om te begin nie. Toe ek hier gearriveer het was ek bang vir sommer net “gaan en doen” - die onbekende, die hoe doen ‘n mens dit?, die onervare. Aan die begin het ek altyd by ‘n nasionale park (want dis bekend, SA het hulle mos ook) of by ‘n KOA (Kampgrounds of America) gekamp. Ek het niks teen ‘n goeie KOA nie. Hulle is gewoonlik skoon en netjies, het gewoonlik lekker aktiwiteite vir die kinders, party het selfs gratis donuts en koffie vir ontbyt, of ‘n bus na die naaste dorp. MAAR hulle is oor die algemeen duur, baie van hulle is reg langs die hoofweg so dis baie raserig, en die staanplekke kan baie naby aan mekaar wees. In my opinie, is dit nie die geld werd as mens net vir die aand ‘n slaapplek soek nie, en nie van die geriewe gaan gebruik maak nie. Dit is egter ‘n redelike “safe bet” as dit laat is en jy nie weet waar jy kan oorbly nie. FYI vir wanneer jy in ‘n tent kamp - KOA het baie keer net ‘n groot oop grasperk as kampplek vir tente, en almal slaan maar tentjie op waar hulle plek kry, so mens kan jou bure potentially baie intiem leer ken!
Amper elke staat het ‘n handjie vol State Parks wat deur die staat se DNR (Department of Natural Resources) bestuur word. Dan is daar ook National Parks, National Monuments, State Forests, National Forests en USCOE (United States Corps of Engineers). Al hierdie parke het baie billike pryse. Ons het onlangs Corps of Engineers kampplekke ontdek en is baie beïndruk. Die USCOE bou en bestuur watersheds, brûe, damme en damwalle, so die kampplekke is almal by die water. Meeste van hulle het ‘n sementblad staanplek en minstens water en elektrisiteit hookups. Die gronde en badkamers is netjies en skoon.
Wanneer ons ‘n groot road trip aandurf kyk ek mooi watter nasionale- en staatsparke daar is wat ons kan besoek langs die roete. Dit is die moeite werd om bietjie sommetjies te maak en te sien wat die goedkoopste gaan uitwerk. Elke park het ‘n ingangsfooi en kampfooi. Wanneer ons baie staatsparke gaan besoek koop ons ‘n annual sticker vir daardie staat, en wanneer ons baie nasionale parke ens. gaan besoek koop ons ‘n Amerika the Beautiful Annual Pass. Die sticker dek ingang, en die Annual Pass dek ingang en ‘n afslag op kampeer by sekere plekke. Meeste state se stickers is geldig van Januarie tot Desember. Annual Passes is geldig vir 12 maande vanaf maand van aankoop.
As jy in Amerika woonagtig is raai ek sterk aan om by AAA (Automobile Association of America) aan te sluit. Ons het hulle Premier RV lidmaatskap. Buiten die gewone road side dienste wat hulle aanbied sal hulle ook ons RV sleep as dit nodig is, en die kaart gee afslag by verskeie plekke (hotelle, aantreklikhede, museums, Tanger Outlet Malls ens.). Daar is altyd ‘n afslaggie iewers te kry. My ma het vinnig geleer om vir senior afslag te vra, want dit word nie orals geadverteer nie, en dit kan baie keer ‘n groot besparing wees. Die jaarlikse AAA fooi sluit ook gratis kaarte, informasie boeke en hulp met vakansie beplanning in. Ek gebruik vir elke lang road trip wat ons onderneem hulle online TripTik. Daar kan jy die begin en eindpunt insit en die roete beweeg vir die paaie wat jy wil volg. Jy kan die roete ook in stukke opbreek, wat baie hulpvaardig is om myle en ure te bepaal vir oornag rusplekke. Die kaarte kom baie handig te pas wanneer jy nie GPS opvangs het nie, of “the road less traveled” wil neem.
Ons beplan en bespreek gewoonlik ons kampplekke teen middel Februarie. Ek vind veral dat die lang naweke (Memorial Day, 4th of July, Labor Day) baie vinnig vol bespreek. Ander tye wat mens lank vooruit moet beplan, veral in die warmer state, is Spring Break en Thanksgiving week. Almal van die Noorde wil bietjie gaan ontdooi in die suide voor hulle die laaste paar wintermaande aandurf. Enige kampplekke op die strand is ook baie populêr. Baie mense bespreek vir die volgende jaar die oomblik wat hulle huidige vakansie daar verby is. Dit maak dit baie moeilik om ‘n voet in die deur te kry. Hierdie jaar skyn nog moeiliker te wees, met dié dat soveel mense kampeer opgeneem het gedurende Covid. Ek wou bespreek vir September, en terwyl jy gewoonlik ‘n jaar vooruit kon bespreek, maak baie plekke nou eers hulle beskikbaarheid 3-6 maande voor die tyd oop. Ek het nou maar ‘n alarm in my foon se kalender gesit om op te spring en ‘n kampeerplek te gryp sodra die besprekings oopmaak.
Na aanleiding van my vorige skrywes kan julle sien dat ons meer “rustic camping” doen. Ons kamp so een of twee keer ‘n seisoen by ‘n oord sodat die kinders al die aktiwiteite en amenities kan geniet. Wanneer ek vir plekke soek lees ek baie reviews sodat ons nie ‘n onplesierige “verrassing” kry nie. My gunstelinge is Tripadvisor en Good Sam maar ek gebruik ook somtyds Yelp en Google Reviews. Daar is baie apps vir kampeer maar alhoewel ek dit op my foon het, het ek gevind ek gebruik dit nie regtig nie. Miskien eendag wanneer ons afgetree is en ons baie rondry sal ek dit meer handig vind?
Noudat die dae langer begin word en die lente hard probeer om winter se greep te breek, hoop ek dat julle ook besig is om planne te beraam vir lang warm dae, avonture, kamp saam met vrinne en familie, en lekker braai. As julle enige vrae of tips van julle eie het, kommentaar gerus hieronder!
Hou goeie moed, die somer is amper hier!! Sien julle om die kampvuur!
Adele
Comments