My man is ‘n Texan. Ek is baie lief vir Texas want dit is baie soos Suid-Afrika - lekker warm weer, braaivleis (Barbeque), vriendelike mense, en country musiek. As my man kon sokkie, dan sou ons sommer lekker gesokkie het in die dance halls wat mens in baie van die klein dorpies vind. Texas is baie populêr met immigrante van Suid-Afrika af, en minstens een keer ‘n jaar is daar groot Potjiekos saamtrekke oor Texas. So, dit was met groot hartseer toe my man van werk verander en ons Michigan toe trek. Op na die koue, waar die winter 5 maande lank duur en die somer nie baie warm raak nie.
Ek was aangenaam verras toe ons uiteindelik gevestig is en die plek begin verken! Michigan is vreeslik groen en daar is baie water. Somer vakansies is vir kamp en boot ry op die vele mere. Baie mense het ‘n “lake house” of “cabin” en mens sien travel trailers of rv’s op meeste van die erwe. My teorie is dat mense die absoluut meeste van die somer maak omdat dit van so ‘n korte duur is!
Michigan word verdeel in twee - Lower Michigan (ook genoem die “Mitten” want dit lyk soos ‘n handskoen) en Upper Michigan (ook genoem die U.P. of Yooperland). Die U.P.[you pea] word amper heeltemaal omring deur van die Great Lakes - Lake Michigan, Lake Huron, en Lake Superior. Ons het lekker gelag toe ons vir Michiganders sê dat ons in die U.P. gaan vakansie hou. Almal het gevra “waar” in die U.P. en hulle oë het gerek toe ons vol entoesiasme antwoord: “Die hele U.P.!!”.
Om by die U.P. uit te kom moet ‘n mens oor die Mackinaw Brug. Dit is ‘n ervaring!! In die winter kan mens iemand huur om vir jou oor die brug te bestuur omdat party mense bang is vir die ys en wind.
Daar gekom het ons soveel wonderlike ervarings gehad. Ons gunsteling kampeerplek is Bay Furnace in die Hiawatha National Forest. Vanaf die kampeerterrein is dit ‘n kort stappie deur die bos om tot op die strand te kom. Die water van Lake Superior is vriesend, selfs in die somer, maar dit het nie die kinders gekeer nie! Hoe is dit dat kinders nie die koue aanvoel nie?! My arme toontjies het sommer stokstyf gestaan van die krampe! Die verlate strand is gladde, ovaal klippe in pragtige kleure. Wanneer die water oor dit spoel bring dit die kleure nog meer na vore. Die kalmte en stilte was ‘n balm vir die siel.
Ek het nooit besef dat die Great Lakes so groot en diep is nie. Lake Superior was, en is nogsteeds, ‘n baie belangrike roete in die vervoer van goedere. Lake Superior is hoër as Lake Huron, so om van een na die ander te beweeg moet die skepe deur sluise gaan soos in Europa. Ons het ‘n heerlike boot toer deur die Soo Locks geneem in Sault Ste. Marie. Daar het ons geleer oor die geskiedenis van die sluise en deur die sluise gereis. Die kinders het dit vreeslik geniet! Ons het soos muggies gevoel langs die groot tankers! Die grootte van elk van die Great Lakes is ongelooflik, mens voel asof jy vir die see staar. Daar het baie skepe al gesink en menige lewens is verloor. Een van die belangrikste lighuise in die U.P. is Whitefish Point. Baie mense dink dat skepe ver in die verlede gesink het maar die Edmund Fitzgerald het in November 1975 vergaan. Die Whitefish Point Lighuis het ‘n baie interessante museum en verskeie artikels van skepe wat gesink het.
Geen reis om die Upper Peninsula sal volkome wees sonder kampeer by Porcupine Mountains State Park nie. Die kampeerterrein is klein en mens moet minstens 6 maande vooruit bespreek. Die kampeerterrein is ook gebou toe kamp nog tente was, so wanneer daar reuse 5th wheels en busse is kan dit bietjie eng raak. Dit is egter die moeite werd want die natuurskoon is wondermooi. Een van my gunsteling foto’s wat ek met julle deel is van die Lake of the Clouds. Dit is ‘n maklike stappie tot by die pragtige uitsig. Soos wat die wolke verby dryf verander die kleur van die water. Ek is seker dit sal pragtig wees in die herfs met die bome wat verkleur om die meer. Dit is wys om die U.P. te vermy van middel Maart tot middel Julie a.g.v. black fly season. Glo my, ek gaan eerder later in die seison en kry bietjie koud as om deur daardie suckers gebyt te word!!
Praat van byt… Een van ons gunsteling (en maklike) kamp ontbyte is “Breakfast Tacos”. Ek hoop julle sal na my resepteblad spring en dit uitprobeer. Dit werk goed oor die kampvuur, in die skottel, of ‘n braaipan. En jy kan basies insit wat jy wil!!
Daar is soveel om te ontdek in die U.P., en die spelling en uitspraak van party laat ‘n mens se tong knoop!! Tahquamenon Falls, Kitch-iti-kipi, Keweenaw,en Pictured Rocks. Die lekkerste deel van die avontuur is die ontdek van nuwe plekke. Laat die U.P. julle verras!
Sien julle om die kampvuur!
Cheersie,
Adele
Comments