Suid-Afrikaners is lief vir die berge – Tafelberg, Drakensberg, Soutpansberg… Om op ‘n piek te staan en uit te staar in die verte in laat ‘n mens terselfdetyd nietig en magtig voel. Amerika het baie berge, maar van die Rockies, Ozarks en die Adirondacks, is die Great Smoky Mountains vir my die pragtigste. Die Smokies is deel van die Appalachian bergreeks wat strek van suid-oos Kanada tot onder in Alabama. Een van die pragtigste paaie wat ‘n mens in Amerika kan ry is die Blue Ridge Parkway - van Virginia tot in North Carolina. Die wonderlike vistas en kronkelpaaie is menige motorfietsryers se droom. Die Great Smoky Mountains self val in dele van Tennessee en North Carolina.
Afstande is misleidend a.g.v. hoe stadig ‘n mens moet ry deur die passe, maar dit is die moeite werd om jou tyd te vat en die uitsig in te drink. Die Smoky Mountains is die plek van Appalachian kultuur, Dolly Parton, Elk (ook genoem Amerikaanse Eland het ek nou net uitgevind), swartbere en Witblits (Moonshine). Dit is down-south en down-home, en ons is mal daaroor.
Met die land in die grepe van Covid, kinders wat online skoolgaan, en ons jaarlikse Suid-Afrikaanse Thanksgiving ete gekanselleer; het ons besluit om Thanksgiving in Great Smoky Mountain Nasionale Park te gaan spandeer. Manlief moes Maandag en Dinsdag nog werk, so ons het besluit om by ons gunsteling kampeerplek, Pine Mountain RV Park in Pigeon Forge Tennessee, te kamp. Dit is naby die besige toeriste “Parkway”, maar ver genoeg dat dit stil is. Die hotel oorkant die straat behoort aan dieselfde eienaar as die park, so ‘n mens mag die lekker swembaddens, jacuzzi, en lazy river daar ook gebruik. Die park is baie skoon en netjies, en elke staanplek het vol hook-ups, wi-fi, en ‘n gelyk sementblad om op staan te maak. Die enigste negatief in my opinie is dat die staanplekke ‘n bietjie naby aanmekaar is. Ek raai staanplek nommer 52 aan, langs die kabbelende stroompie.
Ek glo dat Great Smoky Mountains Nasionale Park die nasionale park is met die meeste besoekers omdat ingang gratis is, en omdat daar soveel is om te ervaar. Natuurskoon aan die een kant, en allerlei opwindende aktiwiteite in Gatlinburg, Pigeon Forge en Sevierville. Besoek gerus Dollywood en Dollywood Splashpark vir wilde roller coasters, water glybane en vermaaklikheid. Ry met die Parkway af en stop by winkeltjies, ry go-karts, besoek museums, speel putt-putt of kyk ‘n show. Moenie vergeet om by een van die menige distilleerders te stop en die ware te probeer nie. Pas net op, die sopies skop! Die groot geheim in die area is om uit te kyk vir koeponboekies wat orals te vinde is. Baie van die koeponne sluit gratis produkte met ‘n aankopie in, of afslag op kaartjies. Een van ons gunsteling aktiwiteite (buiten die witblits-proe-ery) is om op die Alpine Coasters te ry. Dis ‘n kruis tussen ‘n bobsled en ‘n rollercoaster en die grootste pret! Jy tik-e-tik teen die berg op in jou “sled” en vlieg dan teen die ander kant af, kompleet met konkels en draaie. Die lekker ding is jy beheer die spoed, maar hoe vinniger, hoe beter!
Na rondrits in die tourist trap en Jason klaar gewerk het, is ons in die park in. Ons hou van “rustic” kampeer weg van die rumoer, en meeste nasionale parke in Amerika het nie wi-fi of hook-ups nie. Baie se selfoon opvangs is ook onbetroubaar. Ons het ons trailer uitgerus met twee groot gasbottels en twee groot RV batterye. Die yskas, stoof en hitte werk met die gas, en die ligte en waterpomp met die batterye. Ons beplan om ‘n solar paneel ook te kry om ons batterye mee op te top, want ons het net-net nie genoeg krag gehad hierdie keer nie. Ons het ook solar liggies buite sodat ons nie in die donker neer kletter nie.
Ek was gedetermineerd om nogsteeds ‘n tradisionele Thanksgiving-ete voor te sit . Ek het al die geregte voor die tyd gemaak en gevries in klein foelie bakkies, want die oond in die trailer is maar klein. Ek het selfs die terte voor die tyd gebak en gevries sodat ek nie té veel van die gas vir die oond moes gebruik nie. Dit was heerlik, en die familie het dit waardeer dat ons nogsteeds ‘n regte Thanksgiving maaltyd kon geniet. Daar was ook lekker leftovers! So ‘n lang kampeer en beperkte spasie verg fyn beplanning wat die kos aanbetref, so ek deel ons spyskaart onderaan vir idees 😊. Probeer gerus Granny se Lemoen Fluff resep hierdie maand. Dit is ‘n outydse resep van Jason se ouma en is op elke Thanksgiving- en Kerstafel in ons gesin. Ek eet dit sommer vir poeding ook!
Daar is soveel pragtige plekke in die Great Smoky Mountains Nasionale Park om met die kar en te voet te verken. Stop heel eerste by een van die besoekers sentrums by Sugarlands (Gatlinburg ingang) of Oconaluftee (Cherokee ingang) en kry die “koerantjie”. Dit gee goeie algemene informasie oor die park. Vir meer gedetaileerde kaarte en informasie is daar boekies/kaarte te koop teen $1 elk, of ‘n starter kit vir $5. My kinders geniet dit ook vreeslik om die Junior Ranger program te voltooi by al die nasionale parke, so onthou om daardie boekie ook te kry. Wanneer hulle dit voltooi het sal ‘n ranger deur hulle boekie kyk, ‘n paar vrae vra, en met ‘n handskud en ‘n seremonietjie ‘n badge aan hulle oorhandig. Die kinders voel altyd so trots daarna!
Ons is baie lief vir Cades Cove area en kamp gewoonlik in die Cades Cove kampeerterrein (bespreek deur Recreation.gov). As julle van stilte hou stel ek ‘n kampeerplek in die C-loop voor waar daar nie kragopwekkers gebruik mag word nie. Vat ‘n middag en toer die Roaring Fork area – vol historiese geboue en ‘n watermeul. Parkeer die kar en stap ‘n entjie in die woud langs die stroom – ‘n lafenis vir die siel. Toe ons ‘n vorige keer in die somer daar was het ons ‘n swartbeer mamma met 2 kleintjies daar gesien. Maak seker om een van die laatmiddae by Oconaluftee Visitor Center te spandeer om die historiese plaas te verken en die Elk, wat op die grasvlakte wei, te sien arriveer.
Die hoogste punt in die Great Smoky Mountains is Clingmans Dome (2024.79 meter ). Dit is regtig die moeite werd om die half-myl plaveide paadjie uit te klim tot by die uitkyktoring. Die uitsig is asemrowend... en so ook die styl paadjie!!
Iets wat ons tydens hierdie kuier regtig opgeval het, was hoe besig dit was. Of dit nou was a.g.v Covid en mense wat uit die huis uit wou kom; of omdat dit Thanksgiving was en mense het ‘n paar dae afgehad, weet ek nie. Ek sal verkies om weer in die somer of miskien vroeg herfs terug te gaan.
Een ding is seker, ons sal weer en weer terugkeer na die Smokies toe. Die pad soontoe is lank vir ons hier van Illinois af, maar ons maak dit kort deur saam met Dolly Parton, Ronnie Milsap se Smoky Mountain Rain, en On Top of Old Smoky te sing. So maak ons memories.
Tot volgende keer! Geseënde Kersfees en Voorspoedige Nuwe Jaar!
Sien julle om die kampvuur,
Adele
NS: Onthou om op die blou or rooi woorde te klik vir meer informasie oor spesifieke plekke. :-)
Thanksgiving Smoky Mountain Spyskaart
Comments